maritaspacer french

home

biography
books
reviews
interviews
awards
photos
facebook

Marita het 'n kop vol stories
Sy glo skryf maak sin van die lewe en oorwin die dood
Volksblad, 11 November 2002

Marita van der Vyver is die wenner van die Sanlamprys 2002. Jaco Jacobs het met haar gesels oor die "soms absurde" lewe in Frankryk, die moderne Afrikaanse jongmens, laslapgesinne en dinge waaroor nie in tienerboeke gepraat word nie.

Marita van der Vyver is een van die suksesvolste skrywers in Afrikaans. Haar boek Griet skryf 'n sprokie wat in 1992 verskyn het, is vertaal in Engels, Nederlands, Frans, Duits, Italiaans, Spaans, Sweeds en selfs Chinees. Haar ander boeke Die dinge van 'n kind, Wegkomkans en Griet kom weer was ook blitsverkopers. Min mense weet egter dat sy haar skryfloopbaan as tienerromanskrywer begin het. Haar boek Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom het pas die goue medalje in die Afrikaanse afdeling van die Sanlamprys vir Jeuglektuur verower.

Jy is veral bekend vir jou volwasse romans soos Griet skryf 'n sprokie en Die dinge van 'n kind, en tog het jy jou skryfloopbaan begin met tienerboeke soos Van jou jas (1982), Tien vir 'n vriend (1987) en Eenkantkind (1991). Hoekom het daar so 'n lang ruk verby gegaan voordat jy nou weer 'n tienerroman geskryf het?

Ek het nog nooit 'n erg beplande lewe gelei nie. Ek sê mos altyd die lewe is wat gebeur terwyl jy ander planne maak. Eers as ek terugkyk, kan ek (soms) 'n soort patroon uitmaak. Toe die nuwe boek nou die dag uitgegee is, het ek vir die eerste keer besef dat ek presies twintig jaar gelede my eerste boek gepubliseer het, presies tien jaar lank jeugromans geskryf het en daarna presies tien jaar lank volwasse romans geskryf het. Wie weet wat nou gaan gebeur? Ek het so 'n voorgevoel die volgende tien jaar gaan my gemengde dekade wees, want ek het reeds weer begin werk aan 'n volwasse roman, en ek is besig met nogal ernstige volwasse kortverhale, en ek het klaar weer 'n idee vir 'n volgende jeugboek, en ek sit met 'n laai vol humoristiese essays oor my soms absurde lewe in Frankryk…

Jou boek Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom het pas die Sanlamprys vir Jeuglektuur gewen. Wie is Hanna Hoekom, watter ongelooflike avonture beleef sy en waar kom die idee vir die karakter vandaan?

Hanna is 'n tiener wat van kleins af te veel vrae gevra het, daarom het haar mense haar Hanna Hoekom begin noem.

Sy lewe nou in 'n taamlik eksentrieke laslapgesin (ma is 'n skilder wat verfkwaste in haar hare druk, pa is 'n gay klereontwerper wat sy omtrent nooit sien nie, stiefpa is 'n akteur wat sukkel om werk te kry, en dan is daar nog twee stiefbroers en 'n half-broer wat 'n proefbuisbaba was) en haar grootste begeerte is om 'n 'normale' kerngesin te hê. Soos in 'n ma wat koekies bak en 'n pa wat 'n aktetas plaas van 'n handsak dra. Daarom maak sy vir haar 'n lewe op in haar (besonder vrugbare) verbeeldingswêreld en skep 'n 'alter ego' met 'n eksotiese naam soos Fabienne wat allerlei fantastiese avonture meemaak.

Die idee kom seker maar uit die feit dat ek self deesdae in 'n laslapgesin lewe - darem nie heeltemal so eksentriek soos Hanna s'n nie! - en dat ek begin wonder het hoe dit voel om 'n kind in so 'n gesin te wees. Dalk is die hele storie net 'n poging om my kinders en stiefkinders beter te verstaan!

Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom gaan deels oor die krag van stories. Wat beteken stories en stories vertel vir jou?

Ja, binne die hoofstorie van Hanna en haar weird gesin is daar al die stories wat Hanna oor Fabienne skryf - 'n riller, 'n speurverhaal, 'n kortverhaal, selfs 'n gedig, en nog vele meer. Die beoordelaars van die Sanlamprys het dit as 'n post-modernistiese strekking beskryf, maar eintlik is die ding van stories binne 'n storie mos maar so oud soos die oudste stories wat ons ken. Dink maar aan Die duisend-en-een nagte waarin Sjeherazade aanhoudend moet stories vertel om nie doodgemaak te word deur haar koninklike bruidegom nie.

En dit som ook sommer op wat stories vir my beteken. Dis letterlik en figuurlik 'n manier om die dood te oorwin. Om sin te probeer maak van alles wat ons hier op aarde belewe. Met die klem op lewe.

Jy bly deesdae permanent in Frankryk. Wat is die lekkerste en die slegste daarvan om nie meer in Suid-Afrika te bly nie?

Lekkerste is (seker heel voorspelbaar) om nie snags my huis te sluit nie, om my fiets weke lank buite te los sonder vrees dat dit gesteel sal word, dié soort van ding. Jy weet waarvan ek praat, jy moes dit al gehoor het by ander Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon! Slegste bly die gemis aan mense, familie en vriende, vir wie ek lief is. Om tot laatnag om 'n tafel te sit en in Afrikaans te kuier.

Met dié dat jy oorsee bly, kry jy seker heelwat meer blootstelling aan die wêreldletterkunde. Hoe vergelyk oorsese boeke vir jongmense met Afrikaanse tienerromans?

As jy my twintig jaar gelede dié vraag gevra het, sou ek gesê het Afrikaanse tienerromans is nie eens op die kaart nie, daar's só min daarvan en hulle is só ver agter wat onderwerpe en leesgenot en skryfgehalte betref. Dis hoekom ek begin het om tienerromans te skryf. Omdat ek gedog het daar's 'n gaping wat gevul moet word, en as niemand anders dit doen nie, kan ek seker maar probeer. Deesdae is hierdie gaping grotendeels gevul. Ek dink ons kan nogal trots wees op wat die afgelope twee dekades met tienerromans gebeur het.

Hoe oud was jy toe jy die eerste keer begin skryf het, en wie was jou inspirasie?

Ek skryf stories van ek geleer het om 'n pen vas te hou en letters te vorm. Soos iemand slimmer as ek gesê het, it's not a gift, it's a burden. Dis of ek hierdie vrag woorde in my ronddra, en die enigste manier om die vrag ligter te maak, is om te skryf.

Het jy enige vreemde gewoontes of bygelowe as jy skryf?

Nee wat, skryf is nie vir my 'n mistieke ervaring nie, dis doodgewoon verskriklike harde werk. Ek swoeg so om elke punt en komma op presies die regte plek te plaas dat daar nie nog energie oorbly vir bygelowigheid nie.

Daar word deesdae baie in die media geskryf oor die hedendaagse jong Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner. Hoe sien jy hierdie spesie? Hoe verskil vandag se jongmense van jouself toe jy 16 of 17 was?

Daar is natuurlik die obvious verskille, soos dat hulle/julle in 'n veel vryer samelewing grootword, met byvoorbeeld tydgenote van alle rasse in dieselfde skool, en dat die land baie minder afgesluit is van die buitewêreld. Maar die emosiewêreld van tieners is universeel en op 'n manier ook tydloos. Anders sou ek my nie aangematig het om steeds vir tieners te probeer skryf nie!

Wat is na jou mening die beste tienerroman in Afrikaans of watter Afrikaanse jeugboekskrywers bewonder jy?

Laat ek die vraag op 'n ander manier probeer beantwoord. 'n Goeie jeugboek moet ook deur ouer mense waardeer kan word. Dink aan Catcher in the Rye of The Heart is a Lonely Hunter. Is hulle jeugboeke of is hulle volwasse boeke? Maak dit saak? Ons het nog nie genoeg van sulke boeke in Afrikaans nie. Seker ook nie in ander tale nie.

Met Griet skryf 'n sprokie het jy bekend geword as iemand wat nie skroom om "taboe" onderwerpe kaalvuis aan te pak nie. Die Afrikaanse jeugroman het die afgelope paar jaar baie meer toeganklik geword en takel meer "gewaagde" onderwerpe. Dink jy daar is nog onderwerpe in Afrikaanse jeuglektuur waaroor geswyg word en wat verdien om oor geskryf te word?

Eintlik dink ek dit het tyd geword dat Afrikaanse jeugboeke bietjie wegkom van 'onderwerpe' of issues of boodskappe en net 'n slag 'n storie vertel. Eintlik glo ek die verbeelding is magtiger as enige onderwerp.

Die onderwerp vir hierdie jaar se Sanlamprys vir Jeuglektuur was "'n Verhaal wat die leser positief stem". Hoekom dink jy is Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom so 'n boek?

Wel, dit was nou vir jou 'n lekker vae 'onderwerp', seker dié dat dit my aangetrek het! Dis 'n boek wat gaan oor familie en oor verbeelding. Ons kan nie ons familie kies nie, maar verbeelding kan ons help om hulle te verdra. En ons het almal verbeelding gekry, nie waar nie?

back to interviews