maritaspacer french

home

biography
books
reviews
interviews
awards
photos
facebook

Onder vier oë:‘Skryf is ’n verslawing’
Beeld, 3 Oktober 2008 - Marida Fitzpatrick

Op 50 is sy nog steeds ordentlik, voel sy nog steeds skuldig, sê sy steeds jammer.
Marita van der Vyver sug. “Ek het soveel jare lank teen Calvinisme gestry dat ek dit nou al onbewustelik doen. Maar nee, ek het nog nie die stryd oorwin nie. Ek gaan dit nooit oorwin nie.”
Waar sy hier by die Boeke-oase se Kuierkombuis op die Aardklop-kunstefees in Potchefstroom sit, lyk sy allesbehalwe hiper-ordentlik, skuldig of jammer. Eerder boheems, Euro-sjiek met ’n aura van heel-tevrede-in-my-vel. Aan haar vingers is bonkige silwer ringe, op haar blonde kop ’n bont kopdoek en aan haar skraal lyf ’n grys jurk oor kuitlengte swart sykouse. ’n Eksotiese vy hier tussen Aardklop se vetkoek en kerrie en rys.Maar eksoties en sjiek of te not, Marita is moeg. “Uitgeput,” sê sy. “Tien boekbekendstellings in tien dae.” Haar stem is hoog en warm met ’n sweempie van ’n vreemde aksent. Die Frans het by die Afrikaans ingekruip; ’n bietjie vyestroop het oor die kerrie en rys gedrup. Dis “lekker, lékker” om uit Frankryk terug te wees, sê sy.
“Aan en af woon ek nou al langer as ’n dekade oorsee.”
In Frankryk is sy totaal anoniem; weet niemand van Griet of Stiltetyd of Marita-die-skrywer nie. Maar by Aardklop keer baie aanhangers haar voor om foto’s te neem of geselsies aan te knoop. “En hulle wil aan jou raak,” sê Marita. “Ek is baie ongemaklik daarmee. Ek is mos nie ’n aktrise nie.”
Maar sy sal nie haar ongemak vir die aanhangers wys nie. “Ek smile maar net en sê dankie.” Sy glimlag. “Soos ’n goeie Afrikaanse meisie.”

Die groot V

Toe ek vra hoe oud sy is, fluister sy die antwoord met haar hand langs haar mond: “Die groot V. Vyftig.” Sy en haar man, Alain, het altwee vroeër vanjaar 50 geword. “Ons het ’n groot eeufeesviering gehad.” Dit was nie vir haar erg om die groot vyf-nul te begroet nie. “It’s all in the mind,” sê sy. “Ek kan nog my tone raak en op my kop staan. Ek kan my voete agter my kop sit!”
En sover dit die kop aangaan, is 50 fantasties, sê sy. “Maar jy’t dit nodig, want jou lyf begin agteruitgaan.” Sy lag. “Teen daardie tyd weet jy darem stywe boude en perfekte tieties is nie al waaroor die lewe gaan nie. Dis al wat ek kan sê vir die jonger meisies: hang in there.”
Die arme jong meisies, die Afrikaner-meisies: Calvinisme sorg waarskynlik steeds dat hulle oor alles skuldig voel.
“Dis miskien in die Afrikaner se geheue, sê Marita. “Dit gaan nie sommer net in ’n geslag of twee verdwyn nie. Ouers maak nog steeds hul kinders groot om skuldig te voel. Ek hoop ek doen dit nie. Ek probeer hard om dit nie te doen nie.”
Die ironie is dat ouerskap die een ding is wat haar die heel skuldigste laat voel. “Ek is lankal verby die stadium wat ek skuldig voel oor seks, drugs en rock ’n roll. Maar dis so maklik om jou kind op te bogger as ’n ouer. “Dis baie moeiliker en scarier om ’n suksesvolle kind groot te maak as om ’n suksesvolle roman te skryf.” Marita het twee kinders: Daniel (16) en Mia (8). Hulle is Frans, maar Marita probeer hier en daar Afrikaans by hulle inkry.
“Ek kan nou uiteindelik vir Daniel ’n e-pos in Afrikaans skryf en hy sal dit verstaan. Dis wonderlik om vir jou kind ’n brief in jou eie taal te skryf.”
Daniel was onlangs as deel van ’n uitruilprogram vir twee maande lank in ’n “ordentlike Afrikaanse skool in Stellenbosch,” het Marita met haar boekbekendstelling-praatjie vertel. “Hy moes al die studs uit sy gesig haal en ’n das aansit. En die skokkende ding was dat hy toe mal was daaroor.”
Die geheim met tieners is kommunikasie, sê sy. “Dis so ’n saai ding om te sê, maar dis waar: jy moet hulle taal verstaan.” En ja, ook in Frans praat tieners vreemd. “Hulle het byvoorbeeld die gewoonte om hulle woorde om te draai en agterstevoor om te sê.”
Maar wanneer sý iets in Frans verkeerd om kwytraak, help hulle haar gou reg. “Mia het my nou die dag gekomplimenteer en ewe vertel my Frans het ‘enorme vordering’ getoon.”

’n Sadistiese ding

Skryf sal haar nooit laat staan nie. “Dis nie ’n gawe nie, dis ’n las. Dis soos ’n verslawing. En enige verslawing kan jou lewe oorneem. Maar,” sê sy en glimlag, “soos wat verslawings gaan, is dit darem ’n redelike gesonde een.”
Op die vraag of dit vir haar lekker is om te skryf, dink sy eers ’n bietjie en antwoord dan hard en duidelik: “Nee.”
Dit is dus ’n sadistiese ding, want hoewel sy nie daarvan hou nie, wou sy dit van kleins af doen. “Vandat ek ’n pen kon vashou, wou ek stories skryf. Ek was die kind in die straat wat die stories uitgedink het wat die anders kinders gespeel het.”
Haar behoefte is eerder om stories te vertel as om te skryf, sê sy in gedagte, asof sy so pas tot die gevolgtrekking gekom het. “As ek honderde jare terug in Afrika geleef het, was ek die storieverteller om die vuur.”
Nee, sê sy, sy sal nooit ophou skryf nie. “Op die ou end is dit ’n skans teen die dood.”
’n Storie draai lank in haar kop voordat sy begin skryf. “Die hoofkarakters moet al ’n ruk lank in my kop lewe.” En sy’t altyd ’n einde in gedagte, “maar dit verander gewoonlik. Dis die lekker daarvan: om verras te word.”
Genre is nooit ’n woord wat by haar opkom wanneer sy ’n roman beplan nie. “Ek skryf eenvoudig ’n roman wat ek graag sal wil lees: toeganklik, maar so dat dit nie die leser se intelligensie beledig nie.”
Iewers het sy die volgende raakgelees en sy dink dis baie waar: “Daar’s net vier soorte boeke: goeie boeke wat goed verkoop, goeie boeke wat swak verkoop, swak boeke wat goed verkoop en swak boeke wat swak verkoop.”
Natuurlik mik Marita altyd vir eersgenoemde. “Een van die beste komplimente was van ’n Franse resensent. Sy’t gesê Griet is Bridget Jones with brains.”

Lees die onderhoud

Onder haar eie boeke het sy nie ’n gunsteling nie. “My gunsteling is die een waarmee ek besig is. Dan vergeet ek al die ander. Dan is als moontlik. Dis eintlik al deel van die hele proses wat lekker is: daardie begin wanneer alles moontlik is.”
Want teen die einde word daardie moontlikhede nooit verwesenlik nie. “Ek kry nooit reg om te sê wat ek wil nie. Dan skryf ek maar weer. As ek tevrede is, sal ek mos ophou skryf.”
En dít wat sy geskryf het, kan sy nooit weer lees nie. “Álles wat ek geskryf het, cringe ek oor. Ek haat dit om enigiets te lees wat ek geskryf het.”
Sodra die bekendstelling van ’n nuwe boek verby is, sit sy hom by al haar ander gepubliseerde werke op die boekrak, wat sy haar “vanity rakkie, haar ydelheidsrakkie” noem. “En dan maak ek hom nooit weer oop nie. Net onder ernstige druk, wanneer ek dit regtig móét doen vir een of ander amptelike werksrede, sal ek teruggaan.”
Maar sy hou daarvan om soms na daardie drie Marita-van-der-Vyver-vakkies op die boekrak te kyk.
“As ek moedeloos raak. As ek dink ‘wat skryf jy?’, dan kyk ek na my rakkie. Dit laat jou aangaan. As jy moedeloos raak, is dit ’n troos.”
Regte egte breëbors-trots kom maar selde verby. “Die vrees is altyd groter as die trots. Die oomblik dat jy dink jy het dit reggekry, raak jy bang dat jy dit nie weer gaan regkry nie.”
En as skrywer moet jy altyd glo jou beste kom nog. Ja, sê sy, sy glo haar beste kom nog. Sy dink ’n bietjie en knik dan beslis: “Absoluut.”
Haar boeke is baie minder outobiografies as wat mense dink. “Maar soms gebeur goed met my nadat ek dit geskryf het. Amper soos selfvervullende profesieë. Dit maak mens amper bang.”

’n ‘Dirty’ ou tannie

Die ordentlikheid het bietjie minder geword, haar skuldgevoelens is met ander vervang, maar haar vrese het aangeteel.
“Mens se vrese word net meer soos wat jy ouer word.” En sy wroeg nog al die pad. “Ja, baie,” sê sy. “Oor alles. Nog altyd. Ek wroeg nie oor dinge wat met my gebeur het nie, maar oor dinge wat ek nié gedoen het nie. Groot goed: jy’t nie jou hand uitgesteek vir iemand toe hulle jou nodig gehad het nie. En klein dingetjies: ’n mooi man op die bus met wie ek nie gepraat het nie.”
Ja, op 50 kyk Marita nog steeds vir mans. “ ’n Mooi man is ’n mooi man.” Sy lag hoog. “Ek kyk vir mans van alle ouderdomsgroepe. Baie van hulle dink seker ek is ’n dirty ou tannie. Maar ek flirt darem nie; ek kyk net.”
Haar eie man is vir haar die mooiste man. “Dit is die corny antwoord. Die eerlike antwoord is George Clooney.” Maar sy’s eerder met Alain as met George getroud. Wat hul huwelik red, is dat hulle altwee al “redelik volwasse” was toe hulle bymekaar gekom het. “Dit maak dat ons mekaar waardeer. Dis nie ’n geval van dit kon erger gewees het nie; ons wéét dit kon erger gewees het.” Sy lag weer. “Mens is nie heeltyd happy in enige huwelik nie. ’n Huwelik is nooit eintlik ’n gemaksone nie.”
Maar dis hoe Marita daarvan hou: uit haar gemaksone, op die rand van haar vrese. Dis hoekom sy verskillende skryfprojekte aanpak: nie net romans nie, maar ook kortverhale, rubrieke en sketse.
“Maar my hart se punt bly maar fiksie. Om stories te vertel. Ons almal leef stories; ons het elkeen ’n storie in ons.”
En as sy haar storie in dié satdium ’n titel moet gee? Sy dink ’n bietjie, pers haar lippe saam en glimlag dan wyd. “Griet word groot,” sê sy in haar Frans-Afrikaans. “Marita word groot.”

back to interviews