maritaspacer french

home

biography
books
reviews
interviews
awards
photos
facebook

Izak de Vries gesels met Marita van der Vyver
LitNet, Oktober 2008

Franse briewe: Pos uit Provence
Marita van der Vyver

Dis ’n voorreg om so, per brief, te kommunikeer. Al is dit nou e-briewe. Vertel gou vir ons waarom jy so ’n liefde het vir ’n lekker brief?

Ek het nog altyd gehou van brief skryf. Dit voel vir my soos 'n meer sosiale manier van dagboek hou, veral noudat omtrent al my briewe op die rekenaar geskryf word, dan bly daar mos altyd 'n kopie oor wat ek later weer kan lees as ek wil. En wanneer ek 'n rubriek vir 'n tydskrif of koerant moet skryf, benader ek dit dikwels ook soos 'n brief aan 'n klompie kennisse, eerder as 'n formele verslag aan 'n skare onbekende lesers.

Die boek handel nie oor kondome nie, nè?

Wel, laat ek dit so stel: indien die boek in Engels vertaal word, sal ons dit nie French Letters noem nie, want dit sou 'n verkeerde indruk skep ...

Ek is sedert Griet skryf ’n sprokie ’n groot aanhanger van jou werk, maar tog word jy aan vroue bemark. Hoe voel jy oor hierdie etiket?

Aangesien vroue wêreldwyd die grootste lesers – en kopers – van fiksie is, gee ek nogal nie om nie. En ek het lankal geleer dat slim mans nie skrik vir 'n sogenaamde "vroueskrywer" nie.

Min mense besef hoeveel lae in jou werk voorkom. Ek het ’n slag ’n vermaarde leeskring laat regop sit toe ek vir hulle die Griekse mites uitgewys het in Griet skryf ’n sprokie en in Griet kom weer. Is dit vir jou goed om die “populêre” titel te dra? Of pla dit soms?

Elke keer as ek wil krapperig word oor ek nie "ernstig genoeg" opgeneem word nie, troos ek myself met daardie wonderlike aanhaling oor engele wat kan vlieg omdat hulle hulself nie te ernstig opneem nie. Ja, ek werk doelbewus meer as een laag by my stories in, maar ek doen dit miskien bowenal om myself van verveling en frustrasie te red terwyl ek skryf, nie noodwendig om lesers te imponeer nie. En indien die odd leser sou oplet dat die karakters se name in Dinge van 'n kind nie sommer uit die lug gegryp is nie, of dat Griet kom weer gebou is op dieselfde struktuur met dieselfde aantal hoofstukke ensovoorts as Homer se The Odyssey, nou ja,dan is dit vir my, en hopelik ook vir die leser, 'n bonus.

Dis opvallend dat jou biografiese werke dit duidelik stel dat jy ’n werkende ma is, niks "airs" of opstêrsgeid oor jy ’n skrywer is nie. Is dit opsetlik, of is dit maar net waar jou hart van vol is?

Daar's niks soos 'n huis vol moeilike kinders en 'n wasgoedmandjie vol vuil klere om jou voete vas op die aarde te hou nie. En ek kan 'n paar gróót skrywers opnoem, baie beroemder as ek, wat bedagsaam en beskeie en menslik gebly het. Amitav Ghosh, byvoorbeeld, vir wie ek twee jaar gelede by die Time of the Writer Festival in Durban ontmoet het. Toe ek hom nou die dag per e-pos geluk wens dat hy die kortlys vir die Man Bookerprys gehaal het – en ek was sekerlik een van hordes mense wat gelukwensinge gestuur het – skryf hy dieselfde dag nog vir my 'n nice briefie terug. Dis iemand wat eers Mensch is, dan skrywer. Dis wat ek ook graag sou wou wees.

Jou dogter klink soos ’n regte klein rabbedoe. Wat is die ding wat jy die graagste vir haar sal wil leer oor die jare van vrouwees wat nog voorlê?

Sorg dat jy sielsusters het om jou deur die lewe te help – nóg belangriker vir 'n meisiekind soos sy wat nie 'n bloedsuster het nie. Sielsusters is vriendinne en tantes en niggies en ander sterk vroue wat jou deur dik en dun sal bystaan terwyl die mans en die minnaars in jou lewe kom en gaan.

Hoe verskil jou boodskap aan jou meisiekind van dit wat jy graag vir jou seun wil leer?

Ek sou vir hom min of meer dieselfde raad gee. Maak vriende en bly vriende met sterk vroue. Dit sal jou 'n beter man maak.

Wow! Wat ’n antwoord! Sjoe. Min van jou volwasse lesers weet dat jy heelwat meer tienerboeke verkoop as volwassene-lektuur. Is ek reg? Vertel ’n bietjie vir ons oor jou “onbekende” tienerboeke.

Ek hou nie telling nie, maar ek dink Tien vir 'n vriend trek al by sy dertigste druk, so dis waar dat kinder- en tienerstories beslis help om die botter op my brood te smeer. Wat lekker is, is dat sommige lesers my leer ken wanneer hulle nog jonk en ontvanklik is, dat hulle soort van saam met my karakters grootword. Teen die tyd dat hulle oud genoeg is om my "grootmensstories" te lees, voel ek vir hulle soos 'n ou bekende, amper 'n familielid.

Jy vertel dat jy eers langs die kombuis geskryf het, maar nou in die solderkamer. Wat sien jy as jy by venster uitkyk?

Nee, ek's terug langs die kombuis! Die kamer op die boonste verdieping is stil met 'n pragtige uitsig op die plataanboom voor die huis en die kliptrap van die 12de-eeuse abdy oorkant die straat, maar dis alles net te stil en te pragtig vir my. Ek moes nog altyd onder die moeilikste moontlike omstandighede probeer skryf – en lyk my ek het so gewoond geraak daaraan dat ek nie kan cope met die "ideale" omstandighede nie.

Verskeie skrywers het rituele: ’n sekere musiek moet speel, ’n sekere glasie wyn moet regstaan ... Ek is gewoonlik net vrek dankbaar om tien minute van stilsit te hê om iets te kan tik. Jy? Wanneer werk jy en wat is jou doepa vir die skryf?

Ek glo nie in doepa nie, ek glo in dissipline. Ek skryf 'n paar uur elke dag terwyl die kinders op skool en die man by die werk is. Elke keer as ek internasionaal suksesvolle skrywers ontmoet, vra ek hulle uit oor wanneer en hoe hulle skryf – en elke keer kom ek tot die gevolgtrekking dat minstens 'n deel van hulle sukses te danke is aan hulle fantastiese dissipline.

Met Die dinge van ’n kind het jy die politiek aangespreek, maar op ’n baie persoonlike vlak. In die ander boeke is die politiek ook telkens ondergeskik gestel aan die persoonlike lewe. In Franse Briewe is jy egter baie ongedurig oor die regse “presidentjie” wat julle nou daar in Frankryk gekry het. Gaan ons in die vervolg dalk ’n sterker politieke stem hoor, of is dit frustrasie wat praat?

Politiek, seks, kos en drank, dis alles deel van my boeke omdat dit deel is van my lewe. Ek het diep sosialistiese oortuigings wat nie flouer word soos ek ouer word en gemakliker lewe nie. Inteendeel, dit ontstel my al hoe meer dat ek lewe in 'n wêreld waar daar so 'n obsene verskil is tussen dié wat het en dié wat nie het nie. En my grootste irritasie met die kort Franse presidentjie is dat hy die soort is wat brood uit die armes se mond sal neem sodat die rykes lekkerder koek kan eet.

En die politiek in Suid-Afrika? Gaan jy nog vir Showerhead Zuma uitdaag in ’n boek?

Glo dit of nie, maar daar is nogal ooreenkomste tussen Sarkozy en Zuma! Hulle hou albei van bling en bravade en hulle maak onnosele populistiese stellings wat hulle gewildheid laat styg onder kiesers wat nie baie gesofistikeerd is nie.

Jy spreek die misdaad in Frankryk aan – en die skreeusnaakse manier waarop jou gesin daartoe bydra. Sou veiligheid genoeg rede wees vir iemand om wortels op te trek en daar neer te plak? (Jou redes was heeltemal anders.)

Ek ken heelwat ekspatriate vir wie misdaad miskien nie die belangrikste rede was om Suid-Afrika te verlaat nie, maar dis beslis een van die struikelblokke wat hulle keer om terug te kom. Die probleem is as jy nog altyd net in Suid-Afrika gewoon het, voel dit vir jou normaal om heeltyd bang en gestres te wees en obsessief al jou besittings toe te sluit en weg te steek. Maar as jy eers 'n ruk elders gewoon het, en gesien het daar ís ander maniere om te lewe, dan word dit bitter moeilik om terug te gaan na daardie abnormale toestand van vrees en obsessie.

Jou boek is werklik humoristies. Ek het plek-plek heerlik gegiggel. Dis ’n kuns om snaaks te wees. Waar kom dié streek vandaan?

Al wat ek in al die jare oor humor geleer het, is dat dit nooit werk as jy te hard probeer nie. As ek gaan sit en probéér om 'n snaakse sin te skryf, gaan dit waarskynlik 'n flop wees. My mees suksesvolle humoristiese frases kom gewoonlik ongevraag op, soos onkruid, dikwels wanneer ek iets ernstigs of treurigs wil skryf. Dis 'n skans teen sentimentaliteit en hoogdrawendheid en pretensie, meen ek.

Jy praat vol lof van jou man, selfs van die slaapkamer wat jy met hom deel. Jy maak dit ook duidelik dat Franse mans anders kýk na ’n vrou. Het die Afrikaanse spesie nog iets te leer by die Franse manne?

Moenie al die mites glo oor Franse mans wat sulke fantastiese minnaars is nie, hoor. Ek was maar net gelukkig om 'n besondere spesie raak te loop, 'n straight man sonder 'n enkele macho been in sy lyf. Daar is sulke mans in alle lande – toegegee, in sommige lande moet jy ver en wyd soek om hulle te vind – en ek sou vir hom geval het al was hy 'n Eskimo.

Is Franse mans nie maar net baie meer pushy as ons klomp Afrikaners nie?

Ons wil nie hê julle moet meer pushy wees nie! Ons wil hê julle moet minder stoot en meer luister. As ek nou namens Afrikaanse vroue mag praat.

Okay! ;-) Die kokende gesin geniet ek al van Die hart van ons huis af. Jou gesprekke, in Franse briewe, oor ou hoenderhane in die wynpot is wonderlik. En ek gaan wragtie die vyeresep probeer! Maar, dis vreemd. Die hoofkarakter in Griet skryf ’n sprokie “ontdek” die kombuis eers teen die einde van die boek (ná sy vroeër net haar kop in die oond wou druk). Nie een van jou vrouekarakters is juis kokers van formaat nie. Hoe so?

In die nuwe roman, wat ek pas begin skryf het, is daar 'n kokende vrou wat skrik vir niks! Ek dink dit gebeur nou eers omdat ek self maar 'n late developer agter die kospotte was. Dis eers hier in Frankryk, saam met Alain, dat 'n stoof en 'n kombuis vir my meer pret as stres geword het.

Jy doen baie rubrieke. En dié boek is nou grootliks ’n produk van hierdie rubrieke. Het jy nog nie in ’n blogger ontaard nie?

Die blote gedagte dat ek elke dag of drie iets moet skryf wat onmiddellik deur derduisende oë gelees kan word, gee my net daar "performance anxiety". Ek skryf alles oor en oor – selfs 'n inkopielysie – voor ek dit vir ander mense gee om te lees, so ek weet nie of 'n blog vir my sal werk nie.

Jy was ’n goeie joernalis voor jy Frankryk toe is, so die idee om te werk aan ’n storie wat moet in wees teen ’n sperdatum is seker nie so raar nie. Maar, is dit nie raar om “oor jouself” te praat nie? In die romans is daar altyd iets wat ’n mens kan probeer koppel aan Marita, maar dis uiteindelik volledig fiksie. Met jou rubrieke is dit (grotendeels) Marita wat oor Marita skryf. Is dít moeilik?

Heelwat minder moeilik as wat dit sou gewees het as ek in Suid-Afrika gewoon het. Dis nie net ek wat hier soveel meer beskut is teen nuuskierige blikke en ondiskrete vrae nie, dis bowenal my gesin. Dis 'n kwessie waaroor elke rubriekskrywer seker wroeg, en daar is allerhande taktieke soos om jou bedmaat of jou kinders skuilname te gee wanneer jy oor hulle skryf, maar wie fool jy nou eintlik daarmee? Almal in die buurt of in die kinders se skool sal weet oor wie jy skryf – behalwe as jy, soos ek, in 'n buurt woon waar niemand anders jou taal praat of jou rubrieke lees of selfs weet dat jy al ooit in jou lewe 'n rubriek geskryf het nie.

Ons het in Die hart van ons huis gehoor hoe jy smag na growwe meel om beskuit te bak. Wat mis jy nog van Suid-Afrika?

Die mense vir wie ek lief is. My familie, my vriende, my sielsusters.

back to interviews